deur Fred May
Wanneer Christus oor Sy kerk van die eindtye praat, sê Hy die volgende: “Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet” (Mattheus 25:1 OV). Hy sê dat alhoewel ons almal in dieselfde stadium van halfgereedheid sal wees, een helfte van die kerk beter voorbereid sal wees vir Sy koms – “En onderwyl hulle gaan om [olie] te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit” (Mattheus 25:10 OV). As die olie die Heilige Gees se inspirerende teenwoordigheid en invloed voorstel, is die ander betekenisvolle deel van die gelykenis die feit dat die olie gekoop moes word. Maar dis interessant om te sien dat Hy nie die betaalmiddel of prys wat nodig is om dit aan te koop spesifiek noem nie. Maar wat wel duidelik blyk in die lig van die weglating wat na my mening doelbewus is, is die feit dat dit tyd sal kos om die ekstra olie te koop. Te veel tyd, om die waarheid te sê, wanneer die lang verwagte oomblik van ontmoeting met die bruidegom uiteindelik aanbreek. Die idee is dat tyd die mees waardevolle betaalmiddel is wat aan die mensdom gegee is. Die inherente waarde van tyd, relatief tot die kortstondigheid van die lewe, is uitermate hoog. Om hierdie rede ag God ons tyd baie meer werd as enige ander geskenk of offerande wat ons Hom kan gee. En omdat God liefde is, heg Hy spesiale waarde aan die tyd wat ons in ‘n verhouding met Hom en met mekaar belê.
Daarom het ek die vrymoedigheid om jou uit te nooi om ‘n spesiale tyd van saamwees en aanbidding met ons te deel by ons Convergence 2016 konferensie hier in die Kaap. Hierdie jaar is die formaat effens anders omdat ons nie gassprekers uitgenooi het nie. Ons hoop om volgende jaar ons tradisie van genooide sprekers voort te sit, maar intussen het ons ‘n behoefte geïdentifiseer om die kort tydjie wat ons met mekaar het op ‘n meer doeltreffende wyse te benut, en ons pas die konferensieprogram daarby aan. Waarna ons werk is die opstel van ‘n formaat/profiel wat ons vir alle ander soortgelyke geleenthede kan gebruik. Ons hoop om die vloei genoegsaam te rig sodat dit sal saamhang met die oorkoepelende tema, fokus en verlangde uitkomste terwyl die ekspressiewe beweegruimte wat ons deelnemers in die verlede geniet het behou sal word. Verder mag dit dalk ook die laaste geleentheid wees wat ons sal hê om ‘n duidelike, samehangende begrip van wie ons is en die plek waarby ons as ‘n beweging uitgekom het aan ons lidmate voor te lê. Ongelukkig het ons in die verlede nagelaat om genoegsame fokus en klem op ons visie en waardes te plaas, en daar is dus ‘n dringende behoefte om hierdie oorsig reg te stel.
Ons voel dat dit noodsaaklik is om die gesprek te begin oor ons behoefte om uit die geestelike ruimte waarin ons tans is te beweeg na ‘n ander een. Op die oomblik bevind ons onsself in ‘n ruimte wat grootliks deur die heersende kultuur met sy godsdienstige tradisies gevoed word. Ons het ‘n meer duidelike onderskeid tussen ‘Evangelie’ en ‘kultuur’ nodig. Ons moet dringend na apostoliese ruimte toe beweeg. En presies hoe hierdie ruimte lyk is die vraag wat ons met nederigheid in gebed moet aanspreek. In Handelinge kry ons ‘n waardevolle kykie na hierdie wonderlike vooruitsig, maar ons moet begin by hoe ons tot daar gaan reis. Terwyl hierdie uitdaging aan die Liggaam van Christus as geheel gerig word, moet ons, as beweging, uitvind wat dit op hierdie tydstip vir ons gaan beteken. Daar is ‘n geskiedkundige, soewereine beweging van God wêreldwyd aan die gang, en ek glo vas dat God wil hê ons moet deel wees daarvan. Dit is waarom die convergence-gesprek hierdie keer beloof om betekenisvol en inspirerend te wees.
Hierdie jaar se tema, OM EEN TE WEES (“BEING ONE”), spreek van twee subtemas: ‘eenheid met Christus’ en ‘eenheid in Christus’, met die tweede wat uit die eerste voortspruit. Wat ons eenheid in Christus betref hoop ons om elke konferensieganger te laat met ‘n duidelike beeld van hierdie eenheid uit ‘n Bybelse perspektief gesien, naamlik dat dit ‘n fait accompli is – iets wat reeds onherroeplik deur Christus aan die Kruis bewerkstellig is. Net soos dit vir ‘n pa nie nodig sal wees om sy kinders wat onder mekaar stry en baklei te oortuig dat hulle werklik familie van mekaar is nie, glo ons dat ons Vader ook eerder met ons wil gesels oor wat die realiteit van familie wees, van een wees, prakties beteken.
Daarom gaan ons van naderby kyk na wat dit beteken om een te wees met Christus. Ons gaan fokus op een wees met die verstand van Christus, een wees met die hart van Christus, een wees met die hande van Christus en een wees met die voete van Christus. Ons vertrou God die Heilige Gees vir ‘n gesamentlike ervaring van emosioneel-geestelike openbaring, die lig van ‘n sluier as’t ware. Ons mik daarna om ‘n doelbewuste fokus op en visie van die verenigende beeld van Christus aan te wakker. Uiteindelik kan ons net streef na of ‘n begeerte ontwikkel vir dít wat ons sien. Die sleutel na ware eenheid lê in die ervaring van die geopenbaarde Christus – “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18 OV). God se uiteindelike begeerte vir ons is nie soseer dat ons iets groots of betekenisvol vermag nie, maar eerder dat ons soos Christus word. Die Heilige Gees is nie gestuur om ons in staat te stel om die werk van getuies te ‘doen’ nie, maar eerder om getuies te ‘wees’ – getuies van Wie Hy is en wat Hy doen; waar geestelike familie wees beteken dat ons Christus nadoen en nie persoonlike ambisie nastreef nie – “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is” (Romeine 8:29 NV).
Ek raai ons amal aan om ons bes te doen om nie hierdie afspraak met Christus en hierdie deel van Sy Liggaam mis te loop nie. En aan die meer avontuurlustiges onder ons rig ek spesiaal hierdie nota en vra dat ons doelbewus daardie tyd neem weg van die narsistiese suurdeeg waarvan kontemporêre kultuur deurtrek is, wat maak dat ons eerder plesier/ontspanning opsoek as God. Dit is afgodery wat die beeld van Christus verraai. Beskou hierdie as ‘n vaderlike vermaning om jou toewyding aan Christus te bevestig bo die najaag van plesier. In plaas daarvan om aan te hou om Hom soos ‘n toevoegsel tot ons lewens te behandel, kom ons wys ons begeerte vir Hom deur ander verpligtinge te kanselleer of uit te stel ter wille van konferensiebywoning. Kom ons maak ons dagboeke en begrotings ‘n weerspieëling van ons ewige prioriteite en waardes. Kom ons almal aanvaar die Vader se uitnodiging om in Sy teenwoordigheid in te kom en maak die geleentheid spesiaal met ons gewaardeerde deelname en teenwoordigheid. Sien julle daar.
Liefde in Christus,
Fred