021 809 9400 info@shofaronline.org

die herstel van ‘n kultuur van dissipelskap

die herstel van ‘n kultuur van dissipelskap

deur Fred May

Hieronder volg ’n uittreksel uit die uitgebreide teks van die nuwe Encounter-module wat die bestaande Fondasie 3 (Nalatenskap) eersdaags vervang en aanvul. Die deurlopende tema van die nuwe kursus is dié van die liefde asook ’n bepaalde verhoudingsgerigtheid as goddelike prioriteite. Ons poog dan ook om die praktiese uitwerking van hierde fokuspunte op die dissipel se groei te oorweeg en toe te pas.

Die liefde, en al die ander vrugte/deugde van die Gees, naamlik ‘…blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 OV), is almal die vrug van ’n emosioneel-geestelike volwassenheid, d.w.s. ’n emosionele intelligensie of intuïtiewe rypheid wat Christus deur Sy genade in ons wil vestig. Volgens Christus is hierdie groeidoelwit elke gelowige se mees gebiedende verpligting: “‘Meester, wat is die groot gebod in die wet?’ En Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.'” (Matteus 22:36-40 OV).

Hierdie gebooie beklemtoon die belangrikheid en prioriteit van emosioneel-geestelike volwassenheid bo enige twyfel. Hierdie besonderse persoonlike rypheid vereis die nastreef van heelheid (‘wholeness’), wat ook juis ons aangepaste inslag en benadering tot dissipellering bepaal.

God se verlange is vir Sy ganse gesin om gemobiliseer, gemotiveer en bemagtig te word om by die werk van dissipelering betrokke te raak en dit te bevorder. Die kweek van emosioneel-geestelike groei vir die individu moet universele voorrang geniet en dit moet ook uiters sensitief en omsigtig benader word. God se uiteindelike groeidoelwit vir jou is nie soseer om van jou ’n gesoute dissipel te maak nie, maar eerder om dit moontlik te maak dat jy as doeltreffende en produktiewe dissipelmaker opgerig sal word. Hierdie deel van die Sendingopdrag is elke toegewyde Christen se verantwoordelikheid. Wanneer ons begin om hierdie begeerte van die Vader se hart te vervul, bring dit ons nader na ’n verhouding gekenmerk deur ’n dieper intimiteit en guns met Hom, soos Christus beaam het: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in My Naam vra.” (Johannes 15:16 NV)

Diep binne elke mens skuil die hartsbegeerte om sy of haar ewebeeld, in die vorm van ’n nuwe lewe, ’n babatjie, die lig te laat sien. Aanvanklik word dié oerdrang dalk nie so sterk aangevoel nie, maar soos mens ouer word, raak hierdie Godgegewe, natuurlike begeerte al hoe sterker. Dieselfde is waar van ons in ’n metaforiese sin. Ons is vir dieselfde doel uit die Gees gebore – om vrug te dra in die vorm van gesonde baba dissipels wat Christus uitbeeld, en wat op hulle beurt ook vele en blywende soortgelyke vrug sal dra.

Die ontsegging van hierdie voorreg en geleentheid om verantwoordelikheid te neem vir ’n jong, weerlose lewe, wat ’n mens dan ook liefkoos en koester, lei tot onuitspreeklike hartseer en pyn in die lewens van talle egpare. En dit was nooit God se wil dat enige een van Sy kinders figuurlik gesproke die lewe ‘kinderloos’ of ‘onvrugbaar’ sou ingaan nie. Ons word almal geroep om te groei tot waar ons, baie soos Noag, hierdie opdrag van God af sou aanvaar: “Maar júlle moet vrugbaar wees en baie word. Vermeerder op die aarde en word baie!” (Genesis 9:7 NV) Maar God verwag nie van ons om ’n uitdaging aan te pak waarvoor ons nie eers toegerus en voorberei word nie. Ons gebed is dus dat die Heilige Gees in hierdie stadium die begeerte om God se hart en passie om dissipels te maak en ‘ouerskap’ in ons te kweek, baie persoonlik in jou sal kom wakkermaak.

Die koms van Elia
Daar is pragtige voorbeelde van die heerlikheid van ’n dissipeleringskultuur aan die werk, selfs in die Ou Testament. Tydens die bewind van Koning Agab het Israel van die donkerste dae in hulle geskiedenis beleef, en dít grotendeels te wyte aan sy vrou: “Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie. Sy vrou Isebel het hom daartoe aangehits.” (1 Konings 21:25 NV)

Koningin Isebel het deur middel van haar formidabele vermoëns van intimidering, manipulering en beheersigtigheid geweldige, dog ongeoorloofde, invloed uitgeoefen. Sy het God se profete die stryd aangesê en was van vaste voorneme om God se stem aan die volk te vervang met dié van vals profete (1 Konings 16:31-2 Konings 9:37; Openbaring 2:20-25). Origens het sy Elia so erg geïntimideer dat hy plotseling op die vlug geslaan, en waar hy selfs die punt bereik het van diepe weemoed en sefmoordlustige depressie. Isebel het immers ook vir dié geestelike reus onoorwinlik geblyk. En omdat hy verkies het om alleen te werk het dit hom kwesbaar gelaat vir die mismoedigheid wat sonder uitsondering met isolasie en eensaamheid gepaard gaan. Maar die gemak waarmee Isebel en haar onregmatige skrikbewind uiteindelik tot stilstand gebring is, is verstommend.

Elia het God se instruksie om Elisa as sy dissipel en opvolger aan te stel uitgevoer. En op sy beurt het Elisa weer een van sy dissipels aangesê om Jehu as koning van Israel te gaan salf. En nie alleen het die einste Jehu met volkome gemak van Isebel ontslae geraak nie, maar hy het ook daarin geslaag om die bose invloed van Koning Agab en sy familie te vernietig en die langslewende dinastie van die Noordelike Koninkryk te vestig.

Wat hieruit duidelik word is dat daar langs vier ‘geslagte’ van dissipels maak ’n opmerklike, toenemende progressie in genade en gesag was. Elisa het gevra vir ’n dubbele toedeling van die genade wat op Elia se lewe en bediening gerus het, en hy het dit ontvang. Sy naamlose dissipel kon op sy beurt weer ’n groter mate van Elisa se se salwing en geestelike gesag aan ’n jong man, Jehu, oordra wat dit op sy beurt weer met indrukwekkende gevolge as ’n militêre bevelvoerder in die politieke arena kon uitoefen. Hierdie voorbeeld van die oordrag van verlossingskrag in die proses van dissipelering bevestig die beginsel van ’n Goddelike opvolgingsoordrag wat strategies deur Christus ingestel is: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.” (Johannes 14:12 NV) Soos wat dié ‘lewensketting’ van dissipellering gevestig en in stand gehou word vergroot dit die waarneembare teenwoordigheid van Christus op aarde deur die groeiende getuienis van Sy kerk.

Die harte van die vaders
Die historiese presedent van Elia se dissipelleringswerk is baie betekenisvol omdat dit dui op ’n profetiese patroon wat in Johannes die Doper vervul is. Volgens Christus was Johannes “…die Elia wat sou kom” (Matteus 11:14 NV) As sodanig het hy die weg voorberei vir Christus se bediening op aarde. Johannes het ’n kultuur van dissipellering daar gestel wat ’n kwalitatiewe afwyking van die tradisionele rabbynse model was. Die Skrif belowe dat die Heilige Gees deur die Kerk sal beweeg om hierdie kultuur van dissipel maak te herstel elke keer wanneer God die Kerk begin voorberei vir ’n herlewingsbesoek. “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.” (Maleagi 4:5-6 OV)

Christus het die bestaan van hierdie profetiese patroon in die Nuwe Testament bevestig: “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dis waar, Elia kom eers en sal alles herstel.” (Matteus 17:11 OV, my beklemtoning).

Die kultuur van dissipel maak – waardeur apostoliese guns vir ’n toenemende, opeenvolgende genade-oordrag die norm geword het – is vir die eerste keer onder op openbare vlak deur Koning Dawid ingestel. (Samuel et al het dit net tot profete se mentorskap beperk.) Hy het as vlugteling voor die waansinnig jaloerse Koning Saul in die grot van Adullam skuiling moes vind: “Dawid het daarvandaan weggegaan en ontsnap na die Adullam-grot toe. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en daarheen gegaan na hom toe. Verder het elkeen wat in die moeilikheid was, en elkeen wat ’n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was, by hom aangesluit, en hy het hulle leier geword. Daar was ongeveer vier honderd man by hom.” (1 Samuel 22:1-2 NV).

Met behulp van die buitengewone genade wat op hom gerus het kon Dawid sien hoedat hierdie saamgeflansde groep onderpresteerders elkeen, in ’n betreklike kort tydjie, ’n heldhaftige legende uit eie reg word (2 Samuel 8-39; 1 Kronieke 11-12).

Toe die Apostel Jakobus die Vergadering in Jerusalem toespreek, het hy die profeet Amos aangehaal en die volgende oor Koning Dawid, die ‘man na God se eie hart’, gesê: “Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen.” (Handelinge 15:16-17 NV). Met die hededaagse milieu in gedagte, is dit seer sekerlik God se oogmerk om ’n kultuur van dissipelering as die wesenlike kenmerk van ’n apostoliese mandaat in Sy kerk te kom herstel. Dis bepaald God se voorvereiste vir die wêreldwye siele-oes van hierdie eindtye.

Ons vertrou dat ons almal saam voldoende klaarheid oor hierdie hartsbegeerte van die Vader sal kry om sodoende, in die dae wat voorlê, Sy vreugde te kan meeleef. Ek wens jou die rykdom van Sy vrede toe.

Submit a Comment

Your email address will not be published.