021 809 9400 info@shofaronline.org

‘n terugblik op 2015

‘n terugblik op 2015

deur Fred May

Vir my was die afgelope jaar op meer as een vlak ’n buitengewone reis. Met die aanbreek daarvan was ek reeds verbind tot ’n verlengde bedieningsabbat. En terwyl die idee van ’n lang ruskans van daaglikse verantwoordelikhede en werk genotvol mag klink, het ek ontdek dat daar ’n onverwagse, betekenisvolle onderskeid tussen ’n vakansie en ’n sabbatsjaar kan wees. Volgens die woordeboek is sabbatsverlof ’n tydperk waartydens iemand nie sy of haar gewone taak verrig nie, of wegbreek van normale roetine. In daardie opsig is dit beslis iets om na uit te sien, veral as jy reeds begin vermoed dat volgehoue druk, spanning en moegheid elk stilweg en geslepe hulle tol begin eis het sonder dat jy agtergekom het.

Wat my egter die meeste verras het, is hoe swaar ’n mens staatmaak op dit wat vir jou bekend is, en soveel te meer soos jy ouer raak. Die ritmiese verloop van alledaagse dinge en besig bly met roetine-aktiwiteite, lankal reeds in die brein vasgelêaas neuro-chemiese paadjies, word snaaks genoeg ’n welkome vertroosting. Almal van ons het die intrinsieke behoefte om op een of ander plek aan die lewe verbind te wees en iets te beteken. En selfs belangriker as dit is die onderliggende behoefte om voortdurend as persoon gewaarmerk te word deur die gevoel dat ons persoonlike bydrae as betekenisvol en selfs onmisbaar geag word. En terwyl ek nie weet hoe die dinamiek die skoner geslag raak nie, weet ek wel dat hierdie bekragtiging wat ons as mans op besondere wyse uit ons werk put, baie naby aan ons sekuriteit lê. Ons manlike integriteit groei geil en welig daarin.

In my geval het al die bogenoemde faktore saamgespan om die sabbatsjaar by tye ’n teenstrydige ervaring te maak. Ek besef dat toe Christus my genooi het om Hom as ’n dissipel te volg, ek wel aangeneem het dat Sy opdrag om my kruis op te neem in wese beteken dat ek gewillig sou wees om te doen wat Hy ook al van my vra. Wat ek egter in 2015 besef het, is dat dit in baie opsigte makliker is om ’n lewe van uitdagende toewyding en opoffering ‘vir Christus en Sy Koninkryk’ te lei as om gevra te word om niks te doen nie. Om ’n prediker te vra om op te hou preek is amper soos ’n man wat sy vrou vra om op te hou ma wees vir hulle kinders, of soos om ’n windpomp te vra om op te hou draai. Dit druis in teen instink en grein. Dit voel verkeerd. En nogtans is dit ’n uiters belangrike les van dissipelskap, en ek het die afgelope tyd die voorreg gehad om dit op ’n nuwe vlak te leer.  Dit is wat Christus in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat die deemoediges die aarde sal beërwe. Deemoedigheid verwys na oorvloedige persoonlike krag wat ingespan en beheer word, maar dit beteken ook dat ons Christus toegelaat het om ons los te maak van ons natuurlike kwesbaarheid teenoor ’n sisteem van emosionele beloning vir prestasie, en die emosionele en geestelike onsekerheid wat dit meebring. In Hebreërs 11, die gedenksaal van geloofshelde wat die verlossingsvlam dapper deur die eeue gedra het, word die grootste lofprysing gereserveer vir die helde wat gegroei het tot by die plek waar hulle die subtiele versoeking van voortvarende gehoorsaamheid ter wille van deemoedigheid kon weerstaan, anders as Simson, die magtige anti-held van die Ou Testament. Die Skrif vereer die byna ongelooflike vryheid en gesag wat hierdie groot manne en vroue van God geleer het om uit te oefen: “…deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag” (Hebreërs 11:33-34 NV).

Dit mag wees dat ons diepste geestelike verlange of aspirasie is om ’n ryk, doelgedrewe bestaan te voer met die gepaardgaande stille genot wat voortvloei uit ’n gevoel van persoonlike onderskeiding, betekenis en vervulling. God sal elkeen van ons egter in een of ander stadium roep om daardie plek van oënskynlike hoë geestelike prestasie, waarvoor ons so hard baklei het, te verlaat. Die volgende vers in die hoofstuk wat ek sopas aangehaal het dui op daardie oomblik van oorgang, onbesonge maar van monumentale betekenis, wat elkeen van ons instinktief vrees. Sonder uitsondering hunker elke eerlike gelowige na triomf, ’n hunkering wat voortspruit uit die eindelose stroom frustrasie en teleurstelling in hierdie lewe. Hierdie diep verlange na regverdiging en selfs vergelding is iets wat God raaksien en selfs deel, maar sonder om dieselfde waarde daaraan te heg as ons. Hierdie mense is inderdaad ikone van geloof –  “…wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het … Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ’n beter opstanding te kan verkry.”.(Hebreërs 11:33, 35 NV 1953 vertaling, eie beklemtoning). Die bybelse vertelling skakel hier so ongemerk oor na ’n ander rat dat dit maklik is om die groot kloof wat dit sopas oorbrug het mis te kyk. Maar die skrywer illustreer die dramatiese oorgang verder en onderstreep dit vir diegene wat dit wel misgekyk het: “…ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe” (Hebrereg 11:36-38 NV, eie beklemtoning). God ag Sy heiliges wat die Kruis omarm, en daarmee saam ’n lewe van deemoedigheid, van onskatbare, ewige waarde. Net so kon Christus, terwyl Hy aan die Kruis gehang het, legioene van engele oproep om Hom te verdedig, maar in plaas daarvan het Hy deemoedigheid gekies, die sterkste krag wat aan die mens bekend is. Hy het Hom daarvan weerhou om Sy Godgegewe gesag en krag, waarop Hy geregtig was, uit te oefen.

Om die dinge te doen wat ons as edel en deugsaam beskou mag dalk wel sodanig wees, maar die opdrag om al daardie aktiwiteite te staak is daarop gemik om ons te herposisioneer omdat selfs daardie aktiwiteite wat deur God goedgekeur word ’n bedreiging vir ons verhouding met Hom mag inhou. Dit kan gevaarlik wees omdat dit ons van Hom kan vervreem deur ons intimiteit met Hom, wat vir Hom so kosbaar is, te bestry. Wat ek in 2015 geleer het, is dat God jaloers is wanneer dit kom by my teenwoordigheid. Ons hou vol met die pretensieuse idee dat ons God in ons teenwoordigheid kan en moet innooi. So asof ons die skepper of outeur van ons eie ruimte is. Die feit is dat Hy ons in Sy wêreld geplaas het en dat ons bestaan in die tyd en ruimte wat Hy geskep het en in Sy goedheid vir ons beskikbaar maak om in te woon. Hy wil hê dat ons in Sy teenwoordigheid inkom en leer om teenwoordig te wees vir Hóm. Maar dié oorgang is net moontlik wanneer ons bereid is om selfs die goeie dinge wat ons doen te laat staan vir die blydskap van wéés, met Hóm wees. Deemoedigheid spreek uiteindelik van ’n gewilligheid om die geestelike vervulling wat ‘doen’ tot gevolg het te verruil vir ‘wees’, sodat laasgenoemde altyd prioriteit geniet. Christus het uitdruklik klem gelêkop die dissipels se behoefte om die waarde van daardie rusplek te besef, daardie plek weg van die swaarheid van edele plig en die noodwendige uitputting wat daarop volg, in teenstelling met die egoïstiese bevrediging van prestasie, die ‘opwinding van die jag’ as’t ware. “En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf” (Markus 3:14-15 OV, eie beklemtoning).

Die afgelope tyd het ek iets geleer van wat dit beteken om net eenvoudig te ‘wees’ by Hom. Meer dikwels as wat ons weet wil Hy met ons gesels verby die gemaklike bekendheid en emosionele veiligheid van ons geestelike lysie van take om af te handel, selfs al beteken dit dat die inkopielys en belofteblikkie agterweë bly. Maar Hy het ons onverdeelde aandag en ruimte nodig om met ons te praat oor Sy behoefte om ons verlossende geneesheer te wees, Yahweh Rophe. Net soos enige medikus sal Hy geen ingrypende mediese prosedure uitvoer voordat Hy eers ingelig, verduidelik en onvoorwaardelike instemming verkry het nie. In hierdie jaar wat verby is het ek op ’n nuwe, dieper manier geleer hoedat Sy liefdevolle besorgdheid Hom by my hart se deur sal laat talm om sag en aanhoudend te klop totdat ek die moed bymekaar skraap om die stram handvatsel te draai en Hom in te nooi vir ’n gesprek wat aanvanklik na ’n intimiderende uitdaging lyk maar uiteindelik lonend en vol liefde is. “Kyk, Ek staan by die deur en ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en Hy met My” (Openbaring 3:20 OV). Niks anders in hierdie lewe kan vergelyk word met hierdie belangrike spesiale ‘koffie’ met die Meester nie.

1 Comment

  1. Anita Le Roux

    Pr. Fred, mag God in hierdie sabbatsrus “leave no stone unturned in your heart”. Dankie dat jy uit jou hart en jou verhouding met God deel. Dis vir my vandag ‘n belangrike boodskap as bevestiging dat dit o.k. is om “niks” te doen nie en net beskikbaar te wees vir die Here om te praat terwyl al die “distractions” stilgemaak is. Mag die genesing wat God dink jy nodig het, volkome en volledig wees en na die rustydperk, wanneer Hy jou weer uitstuur, heel, en vol, mag jy ‘n groter seen vir die Liggaam wees as ooit vantevore. Selfs in jou tyd van rus bring jy ‘n boodskap wat bemoedig en vrede bring.

    Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published.